Die gewoonte van lomp woordverwerkers uit Redmond om die Afrikaanse onbepaalde lidwoord tot die foutiewe en lelike misbaksel
‘n te omvorm, is 'n hinderlike deel van 'n mens se alledaagse leeservaring. Op
Nuus24.com kan 'n mens vanoggend sommer drie variante van die lidwoord ('n, ‘n asook ’n) heel naby aan mekaar sien.

Ou Afrikaanse tikmasjiene het blykbaar 'n aparte sleutel gehad vir die lidwoord en die moderne Unicode-standaard vir die voorstelling van karakters op rekenaars bevat dan ook 'n enkele simbool vir die Afrikaanse onbepaalde lidwoord, die
ʼn. Laasgenoemde is 'n
enkele karakter, soos die Griekse λ, en nie twee opeenvolgende karakters, soos die bogenoemde drie van News24, nie en het die UTF-16-kode 0x0149. Die gebruik van
ʼn (0x0149) sou die misvormde lidwoord kon uitskakel en word, tot my matige verbasing, wel deur Facebook gebruik.

Die
Kanadese veeltalige sleutelborduitleg ondersteun dan ook dié karakter deur dit as AltGr-N (die regterkantste Alt-sleutel word ingehou onderwyl N gedruk word) beskikbaar te maak. Die maklikste manier om die misvormde lidwoord uit te skakel, is egter om die woordverwerker se autokorrigeer-opsies heeltemal af te skakel. Indien dít te moeilik is vir mense wat in Afrikaans skryf, wat van die Kanadese sleutelborduitleg?
VerwysingsUsing AutoCorrect http://wiki.services.openoffice.org/wiki/Documentation/OOoAuthors_User_Manual/Writer_Guide/Using_AutoCorrect (vir OpenOffice)
Turn on or off AutoCorrect options http://office.microsoft.com/en-us/word/hp051894301033.aspx (vir MS-Word)