2009-03-08

Privatisering van die Royal Mail

Daar word vandag op die BBC berig dat gedeeltelike privatisering van Brittanje se Royal Mail deur die Arbeidersregering voorgestel word. Volgens Lord Mandelson, is dít kwansuis die enigste manier om die posdiens se toekoms te verseker. Afgesien van die onafwendbare ontwrigting wat só 'n stap sou teweegbring, en moontlike duistere motiewe (die pensioenfonds van die Royal Mail is blykbaar in 'n bedenklike toestand), word 'n mens tot nadenke gestem oor twee spesifieke kwessies.

  1. Indien die staat nie oor die vermoë beskik om iets so relatief eenvoudig en goedkoop soos 'n posdiens te bestuur nie, wat laat die heer Mandelson dink dat die besit en bestuur van banke deur die staat 'n goeie idee is?

  2. Wat is die rol van vereistes t.o.v. sogenaamde universele diens? Is dit essensieel vir die integriteit van die nasiestaat dat daar één instelling moet wees wat teen één prys oral, rofweg, op die nasionale gebied pos aflewer en sodoende afgeleë gemeenskappe subsidieer?


Indien die antwoord op die tweede vraag ja is, dan moet 'n mens erken dat die staat 'n spesifieke rol het by die waarborg van 'n dergelik diens of dienste. Aan die ander kant: ek was al in dele van Suid-Afrika waar daar geen selfoonontvangs was behalwe deur Orange (Botswana) nie. Dít het my nie spesifiek gehinder nie. Daar is vandag baie manier van kommunikeer en indien die staat nie die behoefte het om 'n poskantoor met hulle vlag op te sit in my dorp nie, sal ek dit net waardeer indien hulle nie iemand anders verhoed om dít te doen nie. Tydens 'n onlangse besoek aan Nieu-Seeland het ek op die sypaadjie in Picton, op die Suid-Eiland, twee posbusse hier onder afgeneem. Die een behoort aan die New Zealand Post en die ander aan 'n private posmaatskappy.


Die regering van Nieu-Seeland het sedert 1987 stelselmatig die monopolie van New Zealand Post (NZP) afgetakel en in 2003 het dit ook sy monopoliestatus binne die Wêreldposunie verloor. Die NZP se status t.o.v. pos is dus soortgelyk aan dié van Telkom s'n in SA t.o.v. landlyne – dit is dominant en onderworpe aan regulasie maar het formeel geen monopolie meer nie.

Ek is self 'n relatief groot gebruiker van die posdiens a.g.v. die gawe bestaan van eBay, Amazon (Resellers) e.d.m. Dit val my dikwels op hoe groot die verskil tussen die diens by die poskantoor en die diens by PostNet in dieselfde Pretoriase winkelsentrum is. In Australië en Nieu-Seeland, waar ek onlangs redelik tyd spandeer het, is die poskantoor eerder soos ons PostNet. Dit is 'n winkel waar 'n mens o.a. goed pos, oulike en gerieflike koeverte kan koop, koeldrank en so aan, of deur 'n tydskrif blaai. Daar is enkele poskantore, soos dié een in Menlyn, waar 'n poging aangewend is om meer vriendelik en veeldoelig te wees maar miskien kan ons in SA begin deur die poskantoor se monopolie op te hef vóór daar oor privatisering gepraat word en nie (soos met Telkom) weer die fout maak om die andersom te doen nie.

O ja, Vraag 1 was retories.

Bronne:

'No alternative' to mail sell-off (BBC) http://news.bbc.co.uk/2/hi/uk_news/politics/7931061.stm

Wêreldposunie (Wikipedia) http://af.wikipedia.org/wiki/W%C3%AAreldposunie

Geen opmerkings nie: